Kleinjan maak boerderygeskiedenis
2016-04-02 · Charl van Rooyen — Landbou Weekblad
This Article first appeared in Landbou Weekblad ([landbou.com](https://landbou.com/)) issue of 1 April 2016 and has been formatted for web viewing by Agristart.
**Mnr. Kleinjan Gasekoma is die eerste swart boer in Suid-Afrika wat as Beesboer van die Jaar aangewys is. Hy het binne 13 jaar die pad van kommunale boer tot suksesvolle kommersiële boer gestap.** (deur CHARL VAN ROOYEN)
Daar is nie 'n tekort aan suksesverhale as dit kom by swart boere wat die moeilike pad van kommunale boer tot kommersiële boer gestap het nie. Gaan krap bloot tussen die verhale van mislukte staatsprojekte en projekte vir grondhervorming wat in duie gestort het.
Die meeste mislukkings kan voor die deur gelê word van gebrekkige kennis, finansiering en mentorskap. Die keersy is die boere wat ondanks die moeras van politieke inmenging, onvoldoende voorligting en hoë boerderykoste die stang vasbyt. Dikwels kan dié sukses ook aan goeie, sinvolle mentorskap toegeskryf word, natuurlik vermeng met die swart boer se eie wilskrag om boer uit eie reg te word en harde werk om daardie doelwit te bereik, soos in die geval van mnr. Kleinjan Gasekoma van Reivilo.
Kleinjan (68), van die plase Bruintjiesfontein en Klein Quaggablatt naby Reivilo, wou nog altyd graag boer. Terwyl dié plaaswerkerseun by die spoorwegstasie se pakkette-afdeling in Pretoria gewerk het, het hy al vanaf 2001 begin plaas soek.
In 2003 het Kleinjan saam met 25 ander mense op die plaas Nouvlakte by Amalia begin boer ingevolge die Regering se destydse program vir die herverdeling van grond vir landbou-ontwikkeling (LRAD). Die staat het die plaas gekoop en die groep mense op die plaas geplaas om te begin boer.
"Ek wou egter alleen boer, want so 'n klomp mense op een stuk grond werk nie lekker uit nie."
In 2007 het hy by die staat aansoek gedoen om 'n plaas te bekom. Hy het toestemming gekry om Bruintjiesfontein en Klein Quaggablatt van altesaam 1,233 ha te huur. Hy en sy vrou, Mariam, het op 28 Oktober 2007 plaas toe getrek en hul kommersiële Bonsmara-tipe beeste van Amalia daarheen geneem. Hul oudste seun, Clement, boer nou daar saam met hulle.
> "Dit was 'n groot dag toe ons na ons eie plaas kon trek. Só het ek my lewensideaal waar laat word," sê hy met 'n breë glimlag.
Hy het al 'n mooi klompie beeste gehad toe hy in 2006 op die Vryburg-skou op 'n boeredag 'n stoetbul en -vers van die Braunvieh-telersgenootskap as geskenk gekry het.
"Ek was baie beïndruk met die bul en sy nageslag en dit het my aangespoor om ook 'n Braunvieh-stoetteler te word," sê hy. "Ek het vir die staat se herkapitaliseringsprogram in aanmerking gekom en hulle het vir my 'n mentor aangestel. Ná baie frustrasies en min vordering moes ek weer 'n ander mentor kry. Ek het mnr. Cois Harman se naam op die lys van beskikbare mentors gesien en daarop aangedring dat hy my help," vertel Kleinjan.
Hy het met verdere staatshulp ingevolge die staat se herkapitaliseringsprogram geregistreerde Braunvieh-beeste met Cois se hulp by verskeie ander telers gekoop. Hy boer ook met Boerbokke.
**BOERBOKKE**
"Ek het onlangs die Boerbokke gekoop sodat ek met meer vee as net beeste kan boer. Dan het ek nog bronne van inkomste. Die bokke vreet ook bosse en só benut ek my plaas doeltreffender," vertel Kleinjan. Sy bokke is van 'n goeie gehalte en sy medeboere koop reeds van sy ramme en ooie aan.
Op die plaas is wild, soos elande, springbokke, gemsbokke, rooibokke, rooihartbeeste en ander klein wild. "Ons het besluit om eers die wild te laat aanteel voordat ons die plaas in die winter vir jagters oopstel."
Sy Braunvieh-stoetkudde bestaan uit sowat 100 beeste en die kommersiële kudde ook 100 diere. Kleinjan brei die kuddes uit deur die beste versies te behou. Hy volg 'n kalftyd deur die bulle vanaf 1 Desember tot einde Maart by die verskillende troppe vroulike diere te hou. Kalwers word in April en Mei gespeen, om koeie die beste kans te gee om deur die winter te kom.
Kleinjan gebruik vier stoetbulle. Twee loop by die 60 kommersiële koeie, terwyl die hoofstoetbul sy 30 Braunvieh-stoetkoeie dek. 'n Stoetbul met 'n bewese rekord vir kleiner kalwers loop by die stoet- en kommersiële verse, wat in die dektyd saam loop.
Die inkomste kom nog hoofsaaklik uit die verkoop van speenkalwers, wat hy op Vleissentraal se veilings op Reivilo van die hand sit.
Sy eerste bulkalf is verlede jaar in 'n fase C-toets op die Armoedsvlakte-proefplaas by Vryburg getoets. "My ideale bul en koei moet minstens eienskappe soos vinnige groei, goeie bespiering, aanpasbaarheid en 'n rustige temperament hê," sê hy.
**SOETVELDWEIDING**
Die grootste deel van die plaas bestaan uit natuurlike soetveldweiding. Daar is ongeveer 2 ha ploegbare grond waar hy later weiding onder besproeiing wil vestig. Die plaas het 'n sterk boorgat. Die soetveld voorsien deur die jaar goeie weiding. Dit bestaan grootliks uit rooi-, borseltjie- en kweekgras.
Selfs tydens die afgelope paar jaar se droogtes het Kleinjan genoeg veld vir sy diere gehad. Dis omdat hy sy veld nooit te swaar belaai nie en die aanbevole drakrag van 12 ha/GVE sinvol bestuur. Gedurende die reëntyd wissel hy die kampe. Daar is 14 kampe op die 1,233 ha met ses suipingspunte.
By elke suipingspunt is opvangkrale met 'n lekbak onderdak. By die verste punt en opvangkraal is ook 'n drukgang en hanteringskraal. Dan is daar naby die huis staalbeeskrale met 'n drukgang, laaiplekke en 'n skaal vir sowat 300 beeste.
In die somer pas hy 'n weeklikse wisselweidingstelsel toe en in die winter laat hy die grenskampe eers kort bewei – veral om veldbrande van sy bure af te beperk – voordat hy die binnekampe laat bewei. Hy wissel die kampe dan elke drie tot vier weke af. Dit verseker dat hy nog drie tot vyf kampe beskikbaar het vir November/Desember wanneer die somerreën begin val.
**VANDAG KONTANTBOER**
Kleinjan se grootste probleem is die min en ongereelde reën wat die westelike deel van Suid-Afrika se lot is. Daarom sal hy nooit sy veld laat oorbewei nie.
Hoewel hy geldelike hulp van die staat gekry het om sy boerdery te begin, boer Kleinjan vandag kontant. Hy het nog nie nodig gehad om geld vir produksiekoste te leen nie.
Mnr. Cois Harman van Marico-Bosveld, mede-eienaar van Agristart, die onderneming wat boere tot selfstandigheid en onafhanklike boere uit eie reg ontwikkel, koester 'n groot bewondering vir Kleinjan Gasekoma. Volgens Cois is Kleinjan se optimistiese ingesteldheid sy grootste bate.
"Ek ken Kleinjan reeds sedert 2006. Hy het hom onderskei dat hy regtig wil boer en het nougeset opleidingsgeleenthede bygewoon. Hy het ná 'n eerste mislukte mentorskappoging daarop aangedring dat ek sy mentor moet wees," sê Cois.
"Ek het hom deel gemaak van die hele beplanning en hy het sy deel bygedra. My taak was om hom en sy personeel te leer om dinge self te doen en eienaarskap te neem van die geleentheid. Hy bel my wanneer hy onseker is of hulp en advies nodig het. Hy doen verslag aan my oor wat hy doen en waarom hy sekere besluite neem. Dan prys ek sy goeie besluite en lei hom waar hy moontlik 'n fout begaan het of waar ek meen hy beter kon vaar."
Toe Cois as mentor betrokke geraak het, was die plaas nie goed ontwikkel nie. Daar was kampheinings sonder stutpale en party trekpale was reeds omgetrek. Cois het al die probleme geïdentifiseer en 'n sakeplan opgestel wat met die oog op finansiering aan die staat voorgelê is.
**BINNE VIER MAANDE**
Toe Kleinjan die geld ná twee jaar ontvang, kon hy begin om sy plaas te ontwikkel. Hy vertel dat sy plaas toe vinnig gevorder het en binne vier maande was die boerdery funksioneel. Cois het ook een van sy eie werkers, mnr. Gilbert Legoba, na Kleinjan gesekondeer om saam met Kleinjan te werk. Gilbert het ook Kleinjan se werkers opgelei onder Cois se leiding en hulle sweis- en snywerk en veewerk leer doen.
Hulle het die plaas deeglik beplan en heinings, gange, 'n dam, opvangkrale, veesuipings, lekbakke onder dak, en veehanteringsgeriewe vir 350 beeste gebou. Dit het Kleinjan en vier werkers vier maande se harde werk gekos om die meeste werk te voltooi.
Met staatshulp het Kleinjan beeste, 'n trekker, beeswa, sleepwa, Toyota-bakkie en boumateriaal vir die krale, heinings, opvangkrale, veesuipings en lekbakke gekoop. Toe was alles op die plaas reg en Kleinjan kon alleen verder boer met die kennis waarmee hy hom bemagtig het.
Cois het alles deurgaans gemonitor en hom ingevolge die begroting ook met aankope vir die boerdery bygestaan.
"Cois se raad beteken vir my baie. Hy het ons opgelei en laat werk. Eintlik het ons gevoel ons werk vir onsself, wat ook die geval is. Ek het al baie by hom geleer. Wanneer ek nie seker van iets is nie, bel ek hom."
'n Begrip van eiewaarde was vir Kleinjan die belangrikste aspek van die samewerking. "Ons het geleer om dinge self te doen en die plaas in stand te hou. Wanneer ons iets nie self kan doen nie, kry ons 'n kundige om te help en dan leer ons om dit in die toekoms self te kan doen."
"Dis baie lekker om te boer. Ek is die hele tyd buite in die natuur. Ek kry deur die jaar geld en kan my gesin versorg," sê Kleinjan.
**'WENNER BY UITSTEK'**
Prof. Hennie Snyman van die Universiteit van die Vrystaat, een van die Voermol-beoordelaars, sê mnr. Kleinjan Gasekoma is 'n wenner by uitstek. "Hier is 'n voorbeeld by uitnemendheid van die suksesvolle vestiging van 'n kommersiële boerdery-eenheid," sê hy. "'n Besonderse kenmerk van sy boerdery is die netjiese en funksionele infrastruktuur en hanteringsgeriewe."
Snyman het hom geloof vir sy bewaringsbewustheid waarvan die goeie toestand van sy weiveld getuig. Ten spyte van die knellende droogte het hy nog baie surplus-veld wat die risiko van sy besigheid aansienlik verlaag.
