Dié boer doen dinge reg
2015-11-27 · Vicus Bürger — Landbou Weekblad
This Article first appeared in Landbou Weekblad ([landbou.com](https://landbou.com/)) issue of 27 November 2015 and has been formatted for web viewing by Agristart.
### Kleinjan Gasekoma bedank mentor toe hy aangewys word as nasionale beesboer van die jaar.
Deur Vicus Bürger
In Bloemfontein is geskiedenis gemaak toe Kleinjan Gasekoma van Noordwes as die Suid-Afrikaanse beesboer vir 2015 aangewys is. Gasekoma is die eerste swart boer wat koning kraai in die nasionale bees- en skaapboer van die jaar-kompetisie. Dié kompetisie is vanjaar die 13de keer aangebied.
Die aankondiging is gedoen op 'n spoggeselligheid wat op Woensdagaand 18 November by Leopard & Lace in Bloemfontein gehou is. Nelius van der Westhuizen van die Karoo is as die beste skaapboer aangewys.
Gasekoma, wat met stoetbraunvieh- en kommersiële beeste naby Reivilo boer, het in sy toespraak sy mentor, Cois Harman van die plaas Welverdiend in die Zeerust-distrik, hartlik bedank. Harman is al sedert 1996 betrokke by die ontwikkeling van nuwelingboere.
Gasekoma het later aan Volksblad gesê: "Tot so ver as wat ek nou geloop het, is oor mister Cois my geleer het. Ek sê baie dankie." Hulle is volgens Gasekoma beste vriende.
Harman het gesê Gasekoma is so sukselsvol omdat hy betrokke by en uiters verbind tot sy boerdery is. "Goed word van die begin af reg en netjies gedoen. Die plaas is baie netjies en alles werk," het Harman gesê.
Gasekoma het volgens hom baie goeie dissipline, bestuur sy plaas uitstekend en is altyd bereid om te leer. "Hy vat nie nonsens nie, maar is 'n mens se mens."
Harman is ongelooflik trots op Gasekoma. "Dit is 'n wonderlike prestasie."
Harman het gesê grondhervorming kan slegs werk as grond aan die regte mense toegeken word wat daartoe in staat is om van die boerdery 'n sukses te maak – Gasekoma is volgens Harman een só 'n mens.
Oor die droogte het Gasekoma gesê boere moet nie moed opgee nie. "Die reën begin nou te kom." Gasekoma het gesê omdat hy "gras gespaar" het, sal hy nog tot Maart weiding vir sy diere hê al reën dit nie. Hy het vanjaar al so 250 mm reën gehad.
