Cois and Kleinjan

Dié boer doen dinge reg

This Article first appeared in Landbou Weekblad (landbou.com) issue of 27 November 2015 (PDF) and has been formatted for web viewing by Agristart.

Kleinjan Gasekoma bedank mentor toe hy aangewys word as nasionale beesboer van die jaar.

Deur Vicus Bürger

In Bloemfontein is geskiedenis gemaak toe Kleinjan Gasekoma van Noordwes as die Suid-Afrikaanse beesboer vir 2015 aangewys is. Gasekoma is die eerste swart boer wat koning kraai in die nasionale bees- en skaapboer van die jaar-kompetisie. Dié kompetisie is vanjaar die 13de keer aangebied.

Die aankondiging is gedoen op ’n spoggeselligheid wat op Woensdagaand 18 November by Leopard & Lace in Bloemfontein gehou is. Nelius van der Westhuizen van die Karoo is as die beste skaapboer aangewys. Gasekoma, wat met stoetbraunvieh- en kommersiële beeste naby Reivilo boer, het in sy toespraak sy mentor, Cois Harman van die plaas Welverdiend in die Zeerust-distrik, hartlik bedank. Harman is al sedert 1996 betrokke by die ontwikkeling van nuwelingboere.

Gasekoma het later aan Volksblad gesê: “Tot so ver as wat ek nou geloop het, is oor mister Cois my geleer het. Ek sê baie dankie.” Hulle is volgens Gasekoma beste vriende. Harman het gesê Gasekoma is so sukselsvol omdat hy betrokke by en uiters verbind tot sy boerdery is. “Goed word van die begin af reg en netjies gedoen.

Die plaas is baie netjies en alles werk,” het Harman gesê. Gasekoma het volgens hom baie goeie dissipline, bestuur sy plaas uitstekend en is altyd bereid om te leer. “Hy vat nie nonsens nie, maar is ’n mens se mens.” Harman is ongelooflik trots op Gasekoma. “Dit is ’n wonderlike prestasie.” Harman het gesê grondhervorming kan slegs werk as grond aan die regte mense toegeken  word wat daartoe in staat is om van die boerdery ’n sukses te maak – Gasekoma is volgens Harman een só ’n mens. Oor die droogte het Gasekoma gesê boere moet nie moed opgee nie.“Die reën begin nou te kom.” Gasekoma het gesê omdat hy “gras gespaar” het, sal hy nog tot Maart weiding vir sy diere

hê al reën dit nie. Hy het vanjaar al so 250 mm reën gehad. Van der Westhuizen van die Juriesfontein-boerdery wat met stoet- en kommersiële merino’s naby Loxton boer, was nie so gelukkig nie. Hulle het maar net ’n bietjie meer as 100 mm reën vanjaar gehad. “Ons moet 230 kry.”

Volgens hom kan ’n mens niks doen as dit nie reën nie. “Die groot ding is net om die droogte te oorleef. Almal weet dit gaan weer reën, maar die vraag is wanneer en gaan jy dan nog daar wees?” Dit is volgens hom dus belangrik om in die goeie tye reserwes op te bou wat weiding en geld betref, en “nie te hoog te vlieg nie”. “Ons het probeer om weg te bêre en kyk nou na die toestand van die diere.

Ons probeer hulle in ’n goeie toestand hou sodat wanneer dinge draai en dit weer reën, ons vroeg in produksie kan wees.” Van der Westhuizen het gesê hy hoop hulle en ander boere oorleef die droogte, want die land het boere nodig en dit sal tragies wees as boerderye weens die droogte tot niet gaan.