Cois-boeredag-rapport-28-september-2013

Boeredagtyd op Zeerust Só word ’n moeilike kalf deurgetrek

This Article is in Afrikaans and Appeared in the Rapport newspaper issue 28 September 2013, (web: http://www.netwerk24.com/ ) written by Susan Cilliers en Alet Pretorious (pdf link) and has been formatted for web viewing by Agristart.

Gewoonlik haal die treurmare van grondhervorming die nuus. Maar onder die radar deel gevestigde boere hul kennis met

opkomende boere. Susan Cilliers en Alet Pretorious het so ’n opleidingsdag buite Zeerust bygewoon.

In die beeskraal op sy plaas Welverdiend staan Cois Harman voor sowat 120 meestal swart boere. Cois, ’n stewige gryskopman, praat en beduie onder die Afrika-son in vlot Tswana, so nou en dan ook in Afrikaans en Engels. Welverdiend is so 10 km duskant Zeerust in Noordwes, ’n 16 km-ritteltit- sinkplaatrit van die N4-snelweg.

Dis hierso vroeg-vroeg in die lente al broeiend warm. Die boere luister aandagtig, lag saam wanneer Cois korswel. Vandag is ’n boeredag met demonstrasies en lesings deur kenners oor letterlik alles wat ’n beesboer moet kan doen. Cois bied dit al 12 jaar aan, elke April en September, meestal vir opkomende boere.

“Die boere het ’n verskriklike dors na kennis,” vertel hy. Hulle kom van so ver as Polokwane, Kuruman, alle uithoeke van Noordwes en Botswana. In bakkies en viertrekkers, soveel style soos boere: sommige in kortbroeke met lang kouse, ander dra langbroek met ’n oopnekhemp.

Twee van Cois se werkers wys hoe ’n kalf en volwasse bees onthoring word. Dan sien die boere waar om ’n aar te soek wanneer jy ’n bees inspuit. Hulle sit vasgenael, elke nou en dan skiet ’n hand op. Cois gee dan die leisels oor aan Jacob van Zyl, dieregesondheidstegnikus van Noordwes se landboudepartement. Jacob-hulle se werk is om siektes onder diere in die provinsie te beheer deur inligting op onder meer boeredae soos hierdie te versprei. Hy trek ’n lang plastiekhandskoen tot by die elmboog aan en demonstreer hoe jy ’n koei vir dragtigheid ondersoek.

Dié vroue is deel van ’n groep vroueboere wat op gehuurde grond van die Royal Bafokengstam sowat 25km van Rustenburg met vee boer.

Dié vroue is deel van ’n groep vroueboere wat op gehuurde grond van die Royal Bafokengstam sowat 25km van Rustenburg met vee boer.

“Ek voel die kalf se pote, onthou om die koei in die laaste drie maande van dragtigheid nie te veel proteïen te gee nie,” verduidelik Jacob. “Die kalf word dan te groot en dit kan die geboorte bemoeilik.” Jacob wys ook hoe ’n kalf se temperatuur gemeet word, verduidelik hoe om sekere siektetoestande te diagnoseer en die regte dosisse van watter medisyne toe te dien. Cois tolk deurentyd in Tswana en waarsku: “ ’n Boer moet goed na sy diere kyk, want ’n boer wat vordering wil maak, kan nie bekostig om een bees te verloor nie.”

Die boere het baie vrae. Cois en Jacob antwoord elkeen. Dis immers die kruks van Cois se werk: Om die boere toegang tot inligting te gee én die vrymoedigheid om enigiets te vra. “Ek het ’n databasis van oor die 4 000 opkomende boere,” vertel Cois toe hy skuins voor 12:00 ’n blaaskans vat terwyl die boere na nog lesings luister. Ons vind koelte vir gesels op ’n groot trekkerband onder ’n boom naby die kraal. Die lekkerste, vertel Cois, is wanneer boere terugrapporteer sy raad het gehelp om ’n siek dier of ’n koei wat moeilik kalf deur te trek.

Tswana oor die eter Uit geselsies met die boere tussen die demonstrasies en lesings deur is dit duidelik: Cois het hard gewerk om dié mentorskap te verdien. Thando Lolwane, bekroonde boer in die Lichtenburg-omgewing wat op drie plase woeker, ken Cois al sedert 1996.

“Hy het ons deur moeilike tye gehelp,” vertel die fiere Thando (56). Hy is regop-trots, met grys spikkels in sy hare. “Boerdery is in my bloed, dit gaan nou goed met ons.”

Cois Harman

Cois Harman en sy sakevenoot David Mothoagae.

Cois is van kindsbeen geslyp vir sy lewenstaak. Hy het grootgeword op die familieplaas, Roodesloot, reg langs die plaas Welverdiend. Reeds as kind het hy Tswana praat. Nadat Cois sy jaar op teologiese skool by die Potchefstroomse Universiteit vir Chrislike Hoër Onderwys voltooi het hy bestluit om ‘n honneursgraad in afrikatale te doen. Hy het ook by die universiteit klas gegee en daarna in Potchefstroom en Koster skoolgehou. In 1980 is hy aangestel as hoof van die departement Afrikatale by die Onderwyskollege vir Verdere Opleiding in Pretoria. In dié tyd het hy verskeie Tswana- en Noord-Sothoskoolhandboeke geskryf en selfs sy hand aan ’n kortverhaal in Tswana gewaag.

Toe hy Welverdiend in die laat 1980’s koop, het hy teruggekeer na sy grootwordwêreld. Saam met die boerdery het hy ander steeds bly onderrig. Cois het onder meer by ’n plaaslike Tswana-skool skoolgehou en was later hoof van die Ikageleng High School, naby Zeerust.

“Dit was lekker om geleenthede te skep, ons het van die kinders gehelp om met beurse te gaan studeer,” vertel hy.

Piet de Villiers

Piet de Villiers (heel regs) help ook met opleiding op die boeredag.

Toe besluit die Tswana-boertjie in hom om in 1996 die onderwys te los en hom heeltyds aan die landbou te wy. Hy het begin deur landbou-ontwikkeling vir Agri-Noordwes gedoen. Daarna het hy dieselfde werk vir onder meer die Nasionale Olieprodusenteorganisasie en Graan SA gedoen. “Ek het landwyd gewerk en swart boere in studiegroepe georganiseer. Daar was ook inligtingsdae, demonstrasies en praatjies oor boerdery.”

Cois het in dié tyd ’n Tswana-radioprogram oor boerdery op die nasionale stasie Motsweding gehad. Hy spog na dese met ’n magistergraad in volhoubare landbou van die Universiteit van die Vrystaat. “Dié studie help jou om mense te identifiseer wat suksesvol kan boer en om die regte mense vir finansiering te kies. Nie elke plaaswerker kan boer nie.”

Die modelle wat Cois ontwikkel het, is al in Noordwes gebruik om boere suksesvol op hul eie grond te vestig. Van hulle is met landboupryse bekroon, vertel hy trots. Cois het intussen sy eie maatskappye gestig om sulke boere te help. Hy en David Mothoagae, onder meer voorsitter van die Tswana-taalraad in Suid-Afrika en ook ’n boer, is aan die stuur van Agristart. Daarbenewens het Cois ’n eiendomsagentskap, Tulo-eiendomme. Dit is daarop gemik om opkomende boere te help om plase te kry en hulle suksesvol daar te vestig. “Hul grootste uitdaging is om toegang tot finansiering te kry.” Die boere beaam dit waar hulle in groepies voor die kraal gesels. Op pad na lesings in die gebou langsaan wei hulle uit oor hul grootste kopsere: weersomstandighede, grondbesit en finansiering om die groot uitgawes van boerdery te dra.

’n Eie stuk grond Talle boere by Cois se boeredag droom nog daarvan om hul eie grond te besit. Onder hulle is boere wat al byna vier dekades suksesvol op staats- of huurgrond boer. Wati Tshabalala, ’n gryskopman met lyne op sy gesig van jare onder die son, boer al 23 jaar met mielies, sonneblomme en boontjies. Hy huur grond naby Lichtenburg. Wati, wat saam met sy broer Moses boer, kon dit nog nooit bekostig om sy eie grond te koop nie. “Ons leer baie hier by die boeredae; dit maak die stres bietjie minder,” sê Moses. “Ons praat met ander boere en sien hulle het dieselfde probleme as ons.”

Dié vroue is deel van ’n groep vroueboere wat op gehuurde grond van die Royal Bafokengstam sowat 25km van Rustenburg met vee boer.

Dié vroue is deel van ’n groep vroueboere wat op gehuurde grond van die Royal Bafokengstam sowat 25km van Rustenburg met vee boer.

Nigel Pretorius (20), ’n oopgesig, bruin tweedejaarstudent in landboubestuur van Bloemfontein, is vandag by die boeredag omdat dit hom praktiese insae gee wat hy nie normaalweg as student kry nie. Ook hy krap reeds kop oor waar hy landbougrond gaan kry. “Ek sal dalk eers op iemand anders se plaas werk, geld spaar en dan ’n stukkie grond koop.” Ethian Baloyi is Standard Bank se landbou-adviseur in Noordwes. Hy vertel die bank help opkomende boere met finansiering, maar net as hulle reeds begin en al bewys het hul kán boer. “Daar ís suksesverhale,” sê hy. Nog ’n uitdaging waarmee veral swart boere te kampe het, is kommunale grond.

Oom Piet de Villiers van die Stella omgewing se braunvieh-beeste het al baie pryse ingepalm. Hy is ’n deurwinterde, bekroonde plaasboer wat al kursusse in Oostenryk en Duitsland bygewoon het, vertel hy kierie in die hand agter die beeskraal. In sy lewe het hy al baie gesien hoe boere hulle nie op kommunale grond kan uitleef nie, want daar is te veel verskillende diere en belange op een stuk grond. Niemand neem werklik eienaarskap nie, beaam Cois.

Gewillig om te betrek en leer Cois meen dit gaan tyd neem voordat swart boere werklik tuis sal voel by die tradisionele wit, Afrikaner-landbou- organisasies. Die lys borge vir vandag se gratis boeredag wys egter daar is ’n gewilligheid onder boere om hul swart kollegas te betrek en te leer: Braunviehstoetboere in die omgewing dra by saam met die NWK-landboumaatskappy, Kynoch, Standard Bank en die medisynemaatskappy Zoetis. En dit is wanneer só saamgewerk word dat grondhervorming kan werk, meen Cois. “Daar is baie suksesverhale van boere wat deur die departement van grondsake in Noordwes help vestig is. Van hulle is al met pryse bekroon. Die Noordwes-regering het onder meer my model gebruik om die regte mense te identifiseer en te vestig; die regering doen in baie gevalle moeite.” Maar daar is haakplekke. “Plase moenie gegee word op grond van politiese verbintenisse nie, maar vermoëns. Swart boere is geneig om te glo die staat en ander moet die dinge op die plase vir hulle doen en hulle help om te boer. “Ons help hulle om te besef hulle moet self verantwoordelikheid neem. Ons wys hulle hoe om geld te genereer, aan die gang te kom en oeste in die grond te kry.” Teen middagete luister die boeren nog na lesings; die soet reuk van ’n stomende pot mieliepap vul die lug. Op pad terug op die N4 kyk jy anders na dié Afrika-landskap. Dit is ’n plek van samekoms tussen mense met historiese en kulturele verskille, met een ding gemeen: Om ’n bestaan uit die aarde te maak. Nie net om self te kan eet nie, maar om kos op tafels van Kaapstad tot Zeerust te kan sit.

Susan is Beeld se verslaggewer in die Noordwesprovinsie. Sy boer met woorde en stories.

Waarna mik die regering? Om 30% van die private, kommersiële landbougrond (24,6 miljoen ha) te herverdeel. Teen 2011 is nog net ’n kwart van hierdie teiken (6,2 miljoen ha) behaal. Hoekom nie staatsgrond gebruik? Slegs 2% van die staat se grond (amper 700 000 ha) is geskik vir herverdeling. Dit vorm slegs 3% van die mikpunt van 24,6 miljoen ha. Bron: Universiteit vanWesKaapland se program vir grondenlandbouhervorming (Plaas)

“Ons leerbaiehierby dieboeredae;ditmaak die stresbietjieminder. Onspraatmetander boere ensienhulle hetdieselfde probleme.”

Twee treë vorentoe Baie grondhervormingsprojekte het die inkomste en bestaan van die begunstigdes verbeter – ondanks gebrekkige regeringsteun wat sowel beplanning en produksie as erg beperkte hulpbronne betref. 52% van die begunstigdes verdien ’n inkomste uit boerdery Noordwes se grondhervormingplase(2005 syfers)

  • 33% Stabiele produksie
  • 23% Vermeerderde produksie
  • 23% Laer produksie
  • 21% Geen produksie nie
  • Landwye grondhervormingsprojekte(2008syfers)
  • 28% Stabiel
  • 21% Verbeterde produksie
  • 22% Beperkte sukses
  • 29%Misluk
  • Bron: Universiteit van WesKaapland

seprogram vir grondenlandbouhervorming

(Plaas).