This Article first appeared in Landbou Weekblad (landbou.com) issue of 1 April 2016 (PDF) and has been formatted for web viewing by Agristart.
Mnr. Kleinjan Gasekoma is die eerste swart boer in Suid-Afrika wat as Beesboer van die Jaar aangewys is. Hy het binne 13 jaar die pad van kommunale boer tot suksesvolle kommersiële boer gestap. (deur CHARL VAN ROOYEN [email protected])
Daar is nie ’n tekort aan suksesverhale as dit kom by swart boere wat die moeilike pad van kommunale boer totkommersiële boer gestap het nie. Gaan krap bloot tussen die verhale van mislukte staatsprojekte en projekte vir grondhervorming wat in duie gestort het.
Die meeste mislukkings kan voor die deur gelê word van gebrekkige kennis, finansiering en mentorskap. Die keersy is die boere wat ondanks die moeras van politieke inmenging, onvoldoende voorligting en hoë boerderykoste die stang vasbyt. Dikwels kan dié sukses ook aan goeie, sinvolle mentorskap toegeskryf word, natuurlik vermeng met die swart boer se eie wilskrag om boer uit eie reg te word en harde werk om daardie doelwit te bereik, soos in die geval van mnr. Kleinjan Gasekoma van Reivilo.
Kleinjan (68), van die plase Bruintjiesfontein en Klein Quaggablatt naby Reivilo, wou nog altyd graag boer. Terwyl dié plaaswerkerseun by die spoorwegstasie se pakkette- afdeling in Pretoria gewerk het, het hy al vanaf 2001 begin plaas soek. In 2003 het Kleinjan saam met 25 ander mense op die plaas Nouvlakte by Amalia begin boer ingevolge die Regering se destydse program vir die herverdeling van grond vir landbou-ontwikkeling (LRAD). Die staat het die plaas gekoop en die groep mense op die plaas geplaas om te begin boer.
“Ek wou egter alleen boer, want so ’n klomp mense op een stuk grond werk nie lekker uit nie.” In 2007 het hy by die staat aansoek gedoen om ’n plaas te bekom. Hy het toestemming gekry om Bruintjiesfontein en Klein Quaggablatt van altesaam 1 233 ha te huur. Hy en sy vrou, Mariam, het op 28 Oktober 2007 plaas toe getrek en hul kommersiële Bonsmara-tipe beeste van Amalia daarheen geneem. Hul oudste seun, Clement, boer nou daar saam met hulle.
“Dit was ’n groot dag toe ons na ons eie plaas kon trek. Só het ek my lewensideaal