Cois Harman

Hoe word nuwe boere volhoubaar gevestig?

This Article is Afrikaans and Appeared in Lanbou weekblad (web: http://landbou.com/) issue 25 July 2014 (pdf linkand has been formatted for web viewing by Agristart.

 Nuwe swart boere móét na vore kom, maar hoe gaan dit gebeur? ’n Kenner, wat reeds vir 18 jaar ’n mentor vir opkomende boere is, vertel ons van sy visie. 

Mense wat grond besit, lewer nie noodwendig ’n bydrae tot voedselsekerheid nie, maar in ’n land waar miljoene mense honger gaan slaap, behoort voedselsekerheid ’n voorrangsaak te wees. Grond met landboupotensiaal moet produktief gebruik en bestuur word. ’n Mens verdien eers om ’n boer genoem te word as jy deur jou bemoeienis ’n plaas kan omskep in ’n bate en eenheid wat ’n inkomste oplewer. Die meeste produktiewe kommersiële boere is nog wit, maar daar is al heelwat swart boere wat suksesvol op hul eie plase boer en tot voedselsekerheid bydra. Ongelukkig het baie plase wat voorheen produktief was, tot stilstand gekom – sommige is selfs tot niet – omdat mense met geen bewese rekord as boere nie en sonder enige noemenswaardige ondersteuning van ’n landbouvoorligtingsdiens op die grond gevestig is. ’n Verantwoordelike staat behoort nie toe te laat dat enkelinge of groepe wat glad nie aan die vereistes van ’n boer voldoen nie, op ’n plaas gevestig word nie.

Wanneer ’n persoon, ongeag kleur, wel die vermoë het om sy eie plaas te koop, behoort hy/sy gewoonlik ook die vermoë te hê om die plaas reg te benut en te bestuur. Indien hy nie die vermoë het nie, behoort hy vinnig uitgeskud te word deur die hoë eise waaraan ’n boer moet voldoen. Die staat se huidige model van boerevestiging skep ook die geleentheid vir ’n onkundige persoon om baie staatsgeld te vermors voordat so ’n kandidaat uitgeskud kan word, indien enigsins. Die geld wat jaarliks so gemors word, is waarskynlik genoeg om ál die honger mense in Suid-Afrika ten minste een goeie ete per dag te gee.

Hoe behoort nuwe bo ere vir bo ervestiging geÏdentifiseer te word? Daar bestaan verskeie modelle om nuwe boere te vestig. Hier is enkele van die verskeie faktore waaraan ’n kandidaat moet voldoen om suksesvol te wees: n Ervaring. Die kandidaat moet ’n bewese rekord van sukses as boer gehad het waar hy sy boerdery bedryf, soos in ’n kommunale gebied. n Bestuursvaardighede. ’n Boer moet sy onderneming kan bestuur en goeie beheermaatreëls gereed hê wat nougeset nagekom word. Dis wesenlik. n Besigheidsvaardighede. ’n Boerdery is ’n onderneming wat moet wins maak, anders is dit nie volhoubaar nie en gaan die boer onder. n Tegniese vaardighede. ’n Boer moet dinge self kan doen en regmaak, en as hy dit nie self kan doen nie, moet hy iemand kan betaal wat kan doen wat hy nodig het. Die opvatting by baie van die nuwe boere dat die staat sal kom regmaak, is verkeerd en dit is ’n probleem wat vinnig reggestel sal moet word.

Die nuwe boer moet spoedig onder die indruk gebring word dat hy self planne moet maak om alles op die plaas in stand te kan hou. Dié wat nie kan nie, moet opleiding kry in wat nodig is om ’n plaas suksesvol te bedryf. n Landbouvoorligtingsdiens.

Die huidige voorligtingsdiens van die staat het nie altyd die vermoë om nuwe boere reg te ondersteun nie. ’n Spesialiseenheid behoort op die been gebring te word waar ’n landboukundige vir elke 10 tot 20 nuwe boere in ’n streek aangestel word om hulle by te staan met hul totale boerdery. Die beginsel is dat die boere self moet leer doen en dat die landboukundige moet toesien dat hulle vaardighede voortdurend opgeskerp word. Kundige boere in ’n omgewing kan steeds deur die landboukundiges gebruik word om hul kennis aan nuwe boere oor te dra. Die meeste suksesvolle, wit boere is baie bereid om hul vaardighede en kennis aan die nuwe boere oor te dra, maar hulle het nie noodwendig tyd om voortdurend betrokke te wees nie. Die landboukundige moet boere gereeld besoek om probleme vroeg vas te stel en ook kandidate wat nie die mas opkom nie gouer uit te werk.

Die landboukundige kan ’n stabiliserende rol in die suksesvolle vestiging van die boere speel . n Infrastruktuur. Aan baie boere word ’n plaas toegeken sonder werktuie, toegang tot finansiering om ’n oes te plant of genoeg vee om ekonomie  op ’n stuk grond mee te boer. Wanneer so ’n boer op ’n plaas gevestig word, moet die staat onmiddellik die infrastruktuur wat nodig is om ekonomies volhoubaar op die plaas te kan boer, voorsien, sodat daar dadelik geboer kan word. In baie gevalle ploeter die nuwe boere vir tot vyf jaar of selfs langer voort sonder om te boer, voordat die staat enige hulp of finansiering gee.

 Wanneer die staat plase aankoop, word gou gesê ons koop nie sekere infrastruktuur nie, want dit oorkapitaliseer die plaas. Dit is slegs om regverdiging te probeer gee vir die laer prysaanbod. Uiteindelik breek die boer die infrastruktuur af en wanneer die plaas inkomste moet begin verdien, word besef dit sou nodig wees. Dan word dieselfde infrastruktuur ten duurste weer opgerig. Plase moet as ’n lopende saak gekoop en so oorgeneem word. n Landboutegniese dienste en infrastruktuurontwikkeling. Dit sal sinvol wees as die staat ’n departement van landboutegniese dienste en infrastruktuurontwikkeling op die been kan bring wat in infrastruktuurontwikkeling op die plase van die staat spesialiseer, om te voorkom dat nuwe boere deur roofkontrakteurs uitgebuit word.

Die infrastruktuurontwikkeling moet volgens voorskrif so ekonomies en doeltreffend moontlik opgerig word. Die boer en sy plaaswerkers behoort ook eerder opgelei te word om uiteindelik self die ontwikkelinge op die plaas te kan doen. n Spesiale finansiering. As die boer werktuie, voertuie, produksiemiddele of vee benodig, behoort die boer vir vyf jaar teen ’n rentekoers van 0% deur die staat gefinansier te word. Daarna moet ’n maksimum van 5% rente vir die volgende vyf jaar op sy onbetaalde bedrag gehef word. As die boer ná ’n jaar nie presteer nie, moet hy of sy van die plaas verwyder en met ’n nuwe kandidaat vervang word. Op dié manier bly die infrastruktuur die bate van die plaas en die staat. n Beheer oor die los bates. Die los bates blym dié van die persoon wat die lening daarvoor gekry het (al het hy met die boerdery misluk), maar hy mag nie dié goed van die plaas vervreem nie. ’n Deeglike en omsigtige proses behoort te bestaan om die bates te verkoop met die doel om die staat se lening te probeer delg.

Die nuwe kandidaat op die plaas moet egter die eerste geleentheid kry om die bates oor te kan neem om staatsverliese soveel moontlik te beperk. Wanneer die nuwe boer die los bates ten volle betaal het, word dit syne. Dit is uiters belangrik dat deeglike beheer oor die bates van so ’n plaas uitgeoefen word. Indien die nuwe boer nie van die los bates wil oorneem nie, moet die staat dit op ’n openbare veiling verkoop om die verliese van die vorige kandidaat te probeer verhaal. Streng beheer en goeie dissipline sal sorg dat die regte boere gekeur word. Die nuwe boere sal gou agterkom dat as hulle nie presteer nie, hulle die wonderlike geleentheid gaan verloor. Dié proses klink omslagtig, maar wanneer dit reg bestuur word, sal die staat vinnig ontslae raak van onkundige kandidate en mense wat net vinnig ’n paar rand wil maak. Die vestiging van goeie boere sal bespoedig word.

Dit sal die landboukundige raadgewer se rol wees om wag te hou oor die staat se belange en die ontwikkeling van die boere. Dit is wel ’n bekommernis of daar nog voldoende kundige landboukundiges in die land oor is met die vaardighede om hierdie diens doeltreffend te kan verrig. Wat van die vestiging van ’n groep? Die kans dat die vestiging van ’n groep op ’n plaas tot sukses sal lei, is uiters skraal. ’n Groep werk gewoonlik saam tot hulle hul doel bereik het om toegang tot grond te kry en daarna bots en baklei hulle tot hulle alles verloor het waarvoor sommige so geesdriftig gewerk het.

’n Plan wat kan werk Daar is egter baie druk op die staat om aan meer mense toegang tot grond te gee en nuwe werkbare metodes sal gevind moet word. ’n Werkbare opsie is dat die staat groot boerderyondernemings aankoop en dit deur ’n kundige plaasbestuurder laat bestuur, waar die werknemers ’n aandeel deur hul arbeid of finansiële bydrae kan verdien. Dit is belangrik dat die eenheid die vermoë het om homself te kan onderhou. Só kan selfs politici, staatsamptenare en gewone landsburgers aandeelhouers van ’n plaas word. Soos met enige maatskappy wys die aandeelhouers ’n raad aan wat wag hou oor die vordering van die plaas en toesien dat die lede jaarliks dividende ontvang. Kan plaaswerkers bo ere word?

Natuurlik kan werkers op so ’n plaas hulleself opwerk en uiteindelik tot plaasbestuurder vorder. Die suksesvolle kandidate behoort dan in aanmerking te kom om op hul eie plase/staatsplase gevestig te word waar hulle uiteindelik volle eienaarskap kan bekom.

’n Mens is eers ’n boer as jy ’n plaas kan omskep in ’n eenheid wat ’n inkomste kan oplewer.

’n Goeie en kundige plaaswerker maak egter nie noodwendig ’n suksesvolle boer nie. Hoogstens 4% van ’n bevolking het die vermoë om boere te word. In Suid-Afrika is hoogstens 2% van die bevolking boere, so ook slegs sowat 2% van die swart bevolking. Van dié boere is hoogstens 1% ’n plaaswerker wat ’n suksesvolle boer geword het. ’n Boer is baie meer as ’n vaardige plaaswerker. Die kans dat ’n suksesvolle sakepersoon ’n plaas suksesvol kan bedryf, is baie beter as selfs ’n bogemiddelde plaaswerker. Ons het in Suid-Afrika ’n bestel nodig wat op ’n verantwoordelike wyse ’n volhoubare landboubedryf vestig met die ideaal om al die

land se mense suksesvol te voed. Dit kan nie toegelaat word dat politiekery en selfsug die burgers laat sterwe van die honger nie. Mnr. Cois Harman is ’n boorling van die Marico-Bosveld. Hy bedryf ’n telefoniese adviesdiens, hou boeredae op sy plaas vir nuwe boere en mentor boere op hul versoek. Hy het saam met Standard Bank ’n mentorskapprogram vir opkomende boere begin.